Wednesday, 2 April 2014

Boerekos en Boeretroos

Soms slaan ʼn ding mens onverwags uit die verlede dat jy steier. As dit ʼn sleg-ding is, skud jy onwillekeurig jou kop en dink, gaan verby. Jy vryf oor jou oë en probeer vergeet.
As dit ʼn lekker-ding is, is dit ʼn goeie ding. So ʼn ding het my gister getref.
Hier is werkers by ons huis, besig om ʼn nuwe geut op te sit, dis nogal meer van ʼn affêre as wat jy sou verwag. Oor die middaguur skuif hulle ʼn paar sitgoed bymekaar en hulle het ʼn gereedskapkis as tafel tussen hulle. Dit gebeur alles hier langs my aan die anderkant van die skuifdeur, waar ek sit en skryf in my kantoor.
Die heeltyd gesels hulle in ‘n pragtige singerige klank, die Bolandse taal wat mense gepraat het voor Egoli. Hulle skink koffie uit die fles en maak hulle kospakkies oop.
Ek kyk ʼn oomblik op en Wendell doop sy brood in die koffie.
Net daar slaan die déjà vu my. Déjà vu is ‘n gevoelente dat jy al voorheen iets gesien of ervaar het. Vir my was dit Bolandse klanke. Brood in koffie doop. ʼn Herinnering van vroeërjare; ʼn lekker een.
Ek sit by die kombuistafel in my ma se huis. Pa het die tafel gemaak uit planke en die blad met grys melamien oorgetrek, ons was modern. Die riempiesbank druk patrone in my spykerboude.
Ek het ʼn beker met blou en wit strepe en ʼn toebroodjie van kaas en plaasbotter. Kitty Julies sit die vleis op, vanmiddag eet ons skaap, dit vat lank om sag te word.
“Daar is ʼn skilpad in die tuin”, vertel ek haar. “Die skilpad het die hele pad van die plaas af dorp toe gestap.”
“Nè?” Sy los alles net so, gooi die vatdoek oor haar skouer en leun teen die wasbak. “Vertel my daarvan, maar eet ietsie.”
Ek doop my brood in die koffie, swaai my bene en vertel ver draaistories. Die kaas word sag en die botter dryf groot geel kolle in die warm koffie. Julies vou haar arms oor haar maag vir lank luister.
Wanneer laas het ek brood in koffie gedoop? Nie Brasiliaanse koffie of Arabiese koffie of Keniaanse koffie nie, maar Koffiehuis moerkoffie.
Die Afrikaner het koffie gevat en dit syne gemaak. ʼn Mengsel van koffie en sigorei was wat mense gedrink het, tensy hulle self koffiepitte gebrand het soos die ou tante onder in die straat. Sy het met haar Voortrekkerkappie op gestaan en roer en roer in die platboompot onder die vyeboom, haar wange gloeiend van die hitte. Die hele omgewing het na koffie geruik.
Ons voorgeslagte het soms die witgatboom (Boscia albitrunca) se wortel as plaasvervanger vir koffie gebruik. Dit is net soos koffie gebrand en gemaal, maar toe koffie- en sigoreimengsels maklik beskikbaar geword het, het dit in onbruik geraak.
Die manne het graag koffie uit die piering gedrink. Die koffie was warm en hulle was haastig om hulle manne-ding te gaan doen, daarom het hulle die soet koffie uit die piering geslurp. Jy het nog nooit koffie gedrink voor jy nie dit gedoen het nie. Maar daarvoor het jy ʼn koppie en ʼn piering nodig en jy moet moerkoffie maak in ʼn enemmelkan met ʼn koffiesak.
Jy maak die koffiesak uit ʼn meelsak en werk dit aan ʼn draadraam vas wat mooi op die koffiekant pas. Voor jy die koffiesak kan gebruik, moet jy dit eers oornag in sterk koffie laat lê, anders smaak jou koffie na meelsak.
Toe ons van my ma se goedjies in die ouetehuis gaan haal, was daar soveel herinnerings. ʼn Foto van my pa as jongman. Naslaanboeke uit my kinderjare – en die enemmelkoffiekan, nog met die koffiesak daarin.
Hoekom het Ma die koffiekan gehou? Sy het nie ʼn stoof gehad daarvoor nie. Was dit die herinnering van my pa wat met sy lang vingers die draad draai om die raam vir die sak te maak?
Nou staan die koffiekan by my, maar dis nie sommer net vir staan nie. Ek gebruik dit elke dag om Koffiehuis moerkoffie te maak. Vir my en Graham is die koffie- en sigoreimengsel lekkerder as suiwer koffie, dit het meer smaak.
Vanoggend gaan sit ek met my beker koffie by my pa se tafel met die melamienblad op die stoep. Die botter smelt geel kolle toe ek my toebroodjie daarin doop en die kaas raak sag van die hitte. Ek vat ʼn hap van die brood en ʼn slukkie van die koffie en leun behaaglik terug. En toe weet ek déjà vu beteken eintlik iets anders. Dit beteken “boeretroos”.
Afsluiting
Dankie vir al julle lekker briewe. Dit gaan verskriklik rof hier met die drie boeke wat tans herdruk word. Dit is Die Groot Boerekosboek (die eerste een) in Afrikaans en Engels, en ook “Agter die lekker aan”, verskoon dus as ek nie altyd antwoord nie.
Ek het vanoggend ʼn oproep van iemand gehad wat nie “Die Groot Boerekosboek” kan opspoor nie. Dit is beskikbaar, sê vir die boekwinkel hulle moet dit bestel. Getekende eksemplare kan by my bestel word, kyk op www.dinevanzyl.co.za, waar mens ook op my gratis nuusbriewe kan inteken.
Dan groet ek maar en wens jou allerhande mooi dinge toe vir die naweek.
“Ek kook – soms selfs in die kombuis.”
Dine van Zyl