Soms slaan ʼn ding mens onverwags uit die
verlede dat jy steier. As dit ʼn sleg-ding is, skud jy onwillekeurig jou kop en
dink, gaan verby. Jy vryf oor jou oë en probeer vergeet.
As dit ʼn lekker-ding is, is dit ʼn goeie ding.
So ʼn ding het my gister getref.
Hier is werkers by ons huis, besig om ʼn nuwe
geut op te sit, dis nogal meer van ʼn affêre as wat jy sou verwag. Oor die
middaguur skuif hulle ʼn paar sitgoed bymekaar en hulle het ʼn gereedskapkis as
tafel tussen hulle. Dit gebeur alles hier langs my aan die anderkant van die
skuifdeur, waar ek sit en skryf in my kantoor.
Die heeltyd gesels hulle in ‘n pragtige
singerige klank, die Bolandse taal wat mense gepraat het voor Egoli. Hulle
skink koffie uit die fles en maak hulle kospakkies oop.
Net daar slaan die déjà vu my. Déjà vu is ‘n
gevoelente dat jy al voorheen iets gesien of ervaar het. Vir my was dit Bolandse
klanke. Brood in koffie doop. ʼn Herinnering van vroeërjare; ʼn lekker een.
Ek sit by die kombuistafel in my ma se huis.
Pa het die tafel gemaak uit planke en die blad met grys melamien oorgetrek, ons
was modern. Die riempiesbank druk patrone in my spykerboude.
Ek het ʼn beker met blou en wit strepe en ʼn
toebroodjie van kaas en plaasbotter. Kitty Julies sit die vleis op, vanmiddag
eet ons skaap, dit vat lank om sag te word.
“Daar is ʼn skilpad in die tuin”, vertel ek
haar. “Die skilpad het die hele pad van die plaas af dorp toe gestap.”
“Nè?” Sy los alles net so, gooi die vatdoek
oor haar skouer en leun teen die wasbak. “Vertel my daarvan, maar eet ietsie.”
Ek doop my brood in die koffie, swaai my bene
en vertel ver draaistories. Die kaas word sag en die botter dryf groot geel
kolle in die warm koffie. Julies vou haar arms oor haar maag vir lank luister.
Wanneer laas het ek brood in koffie gedoop? Nie
Brasiliaanse koffie of Arabiese koffie of Keniaanse koffie nie, maar Koffiehuis
moerkoffie.
Die Afrikaner het koffie gevat en dit syne
gemaak. ʼn Mengsel van koffie en sigorei was wat mense gedrink het, tensy hulle
self koffiepitte gebrand het soos die ou tante onder in die straat. Sy het met
haar Voortrekkerkappie op gestaan en roer en roer in die platboompot onder die
vyeboom, haar wange gloeiend van die hitte. Die hele omgewing het na koffie
geruik.
Ons voorgeslagte het soms die witgatboom
(Boscia albitrunca) se wortel as plaasvervanger vir koffie gebruik. Dit is net
soos koffie gebrand en gemaal, maar toe koffie- en sigoreimengsels maklik
beskikbaar geword het, het dit in onbruik geraak.
Die manne het graag koffie uit die piering
gedrink. Die koffie was warm en hulle was haastig om hulle manne-ding te gaan
doen, daarom het hulle die soet koffie uit die piering geslurp. Jy het nog
nooit koffie gedrink voor jy nie dit gedoen het nie. Maar daarvoor het jy ʼn
koppie en ʼn piering nodig en jy moet moerkoffie maak in ʼn enemmelkan met ʼn
koffiesak.
Jy maak die koffiesak uit ʼn meelsak en werk
dit aan ʼn draadraam vas wat mooi op die koffiekant pas. Voor jy die koffiesak
kan gebruik, moet jy dit eers oornag in sterk koffie laat lê, anders smaak jou
koffie na meelsak.
Toe ons van my ma se goedjies in die ouetehuis
gaan haal, was daar soveel herinnerings. ʼn Foto van my pa as jongman.
Naslaanboeke uit my kinderjare – en die enemmelkoffiekan, nog met die koffiesak
daarin.
Hoekom het Ma die koffiekan gehou? Sy het nie
ʼn stoof gehad daarvoor nie. Was dit die herinnering van my pa wat met sy lang
vingers die draad draai om die raam vir die sak te maak?
Nou staan die koffiekan by my, maar dis nie
sommer net vir staan nie. Ek gebruik dit elke dag om Koffiehuis moerkoffie te
maak. Vir my en Graham is die koffie- en sigoreimengsel lekkerder as suiwer
koffie, dit het meer smaak.
Vanoggend gaan sit ek met my beker koffie by
my pa se tafel met die melamienblad op die stoep. Die botter smelt geel kolle
toe ek my toebroodjie daarin doop en die kaas raak sag van die hitte. Ek vat ʼn
hap van die brood en ʼn slukkie van die koffie en leun behaaglik terug. En toe
weet ek déjà vu beteken eintlik iets anders. Dit beteken “boeretroos”.
Afsluiting
Dankie vir al julle lekker briewe. Dit gaan
verskriklik rof hier met die drie boeke wat tans herdruk word. Dit is Die Groot
Boerekosboek (die eerste een) in Afrikaans en Engels, en ook “Agter die lekker
aan”, verskoon dus as ek nie altyd antwoord nie.
Ek het vanoggend ʼn oproep van iemand gehad wat
nie “Die Groot Boerekosboek” kan opspoor nie. Dit is beskikbaar, sê vir die
boekwinkel hulle moet dit bestel. Getekende eksemplare kan by my bestel word,
kyk op www.dinevanzyl.co.za, waar
mens ook op my gratis nuusbriewe kan inteken.
Dan groet ek maar en wens jou allerhande mooi
dinge toe vir die naweek.
“Ek kook – soms selfs in die kombuis.”
Dine van Zyl
No comments:
Post a Comment