Hier by ons is dit winterweer. Dit sous en raak al kouer
en daar word oorstromings en sneeu verwag. Die deinings op die see is reeds
onrusbarend hoog. Die paddas klik en die branders bruis en die reën dreun
dawerend op die dak. Dit is kaggelweer en potjiekosweer.
As jy gaan potjiekos maak, is dit altyd ʼn goeie ding om ʼn
skaapstertjie of vier tussen jou ander bestanddele te voeg.
Skaapstertjies is anderster as lammerstertjies.
Skaapsterte het vleis en vet aan en kom van die volwasse skaap, terwyl
lammerstertjies kleintyd van die lammers gesny word en eintlik net ʼn
knibbel-ding is voor ete.
Ons gewone mense wat nie toegang tot skaapsterte het nie,
koester dit en moet mooi beplan wat ons daarmee gaan maak. Jy kry deesdae hier
en daar skaapsterte in pakkies by padstalletjies te koop en jy moet maar sorg
dat jy vir jou kry, want jy weet nooit wanneer die groot belustiging vir ʼn
potjie jou gaan oorrompel nie.
Skaapstertjies het genoeg vet aan en kan daarom by maer
wildsvleis gesit word om dit bietjie geiler te maak. Veral as mens fynvleis
kook, of skenkelvleis van wild kook om pasteie te maak, is so ʼn paar
skaapstertjies in die pot net die ding. Daardie vetjie maak dat jy die vleis
later bietjie in jou pot kan braai en om so meer geur daaraan te gee.
Jy kan ʼn skaapstertjiepot maak, net so, sonder enige
groente.
Skaapstertjiepot
Genoeg vir 4 mense, maar dis ook nie te sê nie. Party
mense het mos nie end nie.
12 skaapstertjies
5 ml (1 t) grofgestampte koljander
2,5 ml (½ t) grofgestampte kruinaeltjies
10 ml (2 t) growwesout
2,5 ml (½ t) grofgemaalde swartpeper
125 ml (½ k) kookwater indien nodig
Sny die ergste vet af van die sterte. Hou die vet, jy kan
dit later in ʼn wildspotjie gebruik.
Sit jou driepootpotjie op die vuur met die skaapstertjies
daarin. Soos die potjie warm word, sal die vet smelt en mettertyd begin die
stertjies in die vet braai.
Geur met koljander, kruinaeltjies, sout en peper terwyl
die stertjies goed bruinbraai aan alle kante.
Sit die deksel op en laat prut vir ongeveer 1 uur. Loer
so dan en wan of daar ʼn bietjie water moet bykom, dit is dalk nodig as jou pot
baie warm was.
As die vleis goed sag is, bedien skaapstertjies op
stampmielies.
Dit is die eenvoudige manier. As jy die stertjies ʼn
bietjie meer wil geur, gooi ʼn skoot Worcestersous in die pot, of kook die
stertjies met ʼn takkie roosmaryn of tiemie.
Party mense verkies om aan die einde die deksel af te lig
en die stertjies droog te kook, sodat dit ʼn bietjie in die vetjies braai. Dit word
dan met die hand geëet.
Mens kook nie waterblombredie sonder skaapstertjies nie.
Dit is hoe ek grootgeword het en ek verneem baie mense in die Boland kook nog
steeds so.
Groenboontjiepot is dieselfde. Jy braai eers jou uie in
die pot, skep uit. Braai dan die skaapstertjies en skenkelvleis mooi bruin en
laat dit so ʼn entjie stowe met ʼn paar kruinaeltjies. Sit die uie terug in die
pot, sit jou aartappels en groenboontjies bo-op. Onthou as mens potjie maak, is
dit beter om jou groente groot te hou, pleks van klein te kap.
Geur met genoeg sout en witpeper.
As jou boontjiepot reg is, bedien jy dit op rys en sorg
dat daar ʼn paar suurlemoenskyfies is om oor te druk.
Hoe water my mond nou! Dit bly maar een van die
gunstelingpotjies.
Ek het voorheen daaroor geskryf, maar net so ʼn paragraaf
of twee oor lammerstertjies.
As die lammerstertjies gesny word, het die werkers ʼn vuur
byderhand. Die stertjies word met wol en al in die vlamme gegooi. Die wol brand
af en daar bly net ʼn swartgebrande stingel oor. Jy krap dit uit met ʼn stok en
voel-voel daaraan met jou vingers. Sodra jy dit genoeg afgekoel het om te
hanteer, word die vel afgetrek. Jy werk en woel hom tot daar ʼn stukkie been
uitsteek, dié byt jy tussen jou tande vas en dan rem jy tot jy die
swartgebrande vel afstroop. Dit help as jy voortande het.
Nou sit jy met die stertjie in jou hand en jy knibbel die
vetterige vleisie af tot net die bene oorbly soos ʼn graat. Die honde hou
daarvan.
En dan gaan drink jy Eno’s.
Potjiekos
So van potjiekos gepraat. Hoe maak jy potjiekos? Gebruik
jy vleis of vis en groente, of maak jy net vleis? Gebruik jy skenkels en ander
stowevleis of gebruik jy ʼn heel snit, soos ʼn skaapbladjie? Kook jy net
boerekos, of maak jy potjiekos met ʼn buitelandse smakie? Laat weet my, ek stel
belang. Moet net nie vir my skryf, "en dan gooi jy 'n pakkie soppoeier
by" nie. Dit is uit die bose.
Stuur aan
Jy kan gerus my nuusbrief aanstuur vir jou pêlle, hulle
is ook lus om te lees van vetterige skaapstertjies. Hulle kan dan self inteken
op www.dinevanzyl.co.za -
dis gratis.
My boeke is by boekwinkels, Leserskring, On the Dot en
Kalahari beskikbaar. Ek is dankbaar dat dit steeds so gewild is, maar veral
wanneer ʼn boek lank beskikbaar is, bestel boekwinkels dit slegs op aanvraag,
omdat hulle nie met voorraad wil opgeskeep sit nie. Mens kan dit verstaan, maar
hulle kan dit steeds bestel.
As jy getekende eksemplare van my boeke wil hê, bestel
op www.dinevanzyl.co.za.
Kook boerekos
Hierdie naweek maak ons waterblompotjie met ʼn paar lekker
skaapstertjies daarin. Maar nou moet ek eers gou gaan viskoekies bak. Wat eet
jy vanaand?
"Ek kook –
soms selfs in die kombuis.”
Dine van Zyl
Dit is my missie om die Afrikaanse taal, kultuur en
kos te bevorder en mense trots te maak daarop.
No comments:
Post a Comment