Wednesday, 27 August 2014

Hier by ons is dit winterweer. Dit sous en raak al kouer en daar word oorstromings en sneeu verwag. Die deinings op die see is reeds onrusbarend hoog. Die paddas klik en die branders bruis en die reën dreun dawerend op die dak. Dit is kaggelweer en potjiekosweer.
As jy gaan potjiekos maak, is dit altyd ʼn goeie ding om ʼn skaapstertjie of vier tussen jou ander bestanddele te voeg.
Skaapstertjies is anderster as lammerstertjies. Skaapsterte het vleis en vet aan en kom van die volwasse skaap, terwyl lammerstertjies kleintyd van die lammers gesny word en eintlik net ʼn knibbel-ding is voor ete.
Ons gewone mense wat nie toegang tot skaapsterte het nie, koester dit en moet mooi beplan wat ons daarmee gaan maak. Jy kry deesdae hier en daar skaapsterte in pakkies by padstalletjies te koop en jy moet maar sorg dat jy vir jou kry, want jy weet nooit wanneer die groot belustiging vir ʼn potjie jou gaan oorrompel nie.
Skaapstertjies het genoeg vet aan en kan daarom by maer wildsvleis gesit word om dit bietjie geiler te maak. Veral as mens fynvleis kook, of skenkelvleis van wild kook om pasteie te maak, is so ʼn paar skaapstertjies in die pot net die ding. Daardie vetjie maak dat jy die vleis later bietjie in jou pot kan braai en om so meer geur daaraan te gee.
Jy kan ʼn skaapstertjiepot maak, net so, sonder enige groente.
Skaapstertjiepot
Genoeg vir 4 mense, maar dis ook nie te sê nie. Party mense het mos nie end nie.
12 skaapstertjies
5 ml (1 t) grofgestampte koljander
2,5 ml (½ t) grofgestampte kruinaeltjies
10 ml (2 t) growwesout
2,5 ml (½ t) grofgemaalde swartpeper
125 ml (½ k) kookwater indien nodig
Sny die ergste vet af van die sterte. Hou die vet, jy kan dit later in ʼn wildspotjie gebruik.
Sit jou driepootpotjie op die vuur met die skaapstertjies daarin. Soos die potjie warm word, sal die vet smelt en mettertyd begin die stertjies in die vet braai.
Geur met koljander, kruinaeltjies, sout en peper terwyl die stertjies goed bruinbraai aan alle kante.
Sit die deksel op en laat prut vir ongeveer 1 uur. Loer so dan en wan of daar ʼn bietjie water moet bykom, dit is dalk nodig as jou pot baie warm was.
As die vleis goed sag is, bedien skaapstertjies op stampmielies.
Dit is die eenvoudige manier. As jy die stertjies ʼn bietjie meer wil geur, gooi ʼn skoot Worcestersous in die pot, of kook die stertjies met ʼn takkie roosmaryn of tiemie.
Party mense verkies om aan die einde die deksel af te lig en die stertjies droog te kook, sodat dit ʼn bietjie in die vetjies braai. Dit word dan met die hand geëet.
Groenboontjiepot met skaapstertjies
Mens kook nie waterblombredie sonder skaapstertjies nie. Dit is hoe ek grootgeword het en ek verneem baie mense in die Boland kook nog steeds so.
Groenboontjiepot is dieselfde. Jy braai eers jou uie in die pot, skep uit. Braai dan die skaapstertjies en skenkelvleis mooi bruin en laat dit so ʼn entjie stowe met ʼn paar kruinaeltjies. Sit die uie terug in die pot, sit jou aartappels en groenboontjies bo-op. Onthou as mens potjie maak, is dit beter om jou groente groot te hou, pleks van klein te kap.
Geur met genoeg sout en witpeper.
As jou boontjiepot reg is, bedien jy dit op rys en sorg dat daar ʼn paar suurlemoenskyfies is om oor te druk.
Hoe water my mond nou! Dit bly maar een van die gunstelingpotjies.
Ek het voorheen daaroor geskryf, maar net so ʼn paragraaf of twee oor lammerstertjies.
As die lammerstertjies gesny word, het die werkers ʼn vuur byderhand. Die stertjies word met wol en al in die vlamme gegooi. Die wol brand af en daar bly net ʼn swartgebrande stingel oor. Jy krap dit uit met ʼn stok en voel-voel daaraan met jou vingers. Sodra jy dit genoeg afgekoel het om te hanteer, word die vel afgetrek. Jy werk en woel hom tot daar ʼn stukkie been uitsteek, dié byt jy tussen jou tande vas en dan rem jy tot jy die swartgebrande vel afstroop. Dit help as jy voortande het.
Nou sit jy met die stertjie in jou hand en jy knibbel die vetterige vleisie af tot net die bene oorbly soos ʼn graat. Die honde hou daarvan.
En dan gaan drink jy Eno’s.
Potjiekos
So van potjiekos gepraat. Hoe maak jy potjiekos? Gebruik jy vleis of vis en groente, of maak jy net vleis? Gebruik jy skenkels en ander stowevleis of gebruik jy ʼn heel snit, soos ʼn skaapbladjie? Kook jy net boerekos, of maak jy potjiekos met ʼn buitelandse smakie? Laat weet my, ek stel belang. Moet net nie vir my skryf, "en dan gooi jy 'n pakkie soppoeier by" nie. Dit is uit die bose.
Stuur aan
Jy kan gerus my nuusbrief aanstuur vir jou pêlle, hulle is ook lus om te lees van vetterige skaapstertjies. Hulle kan dan self inteken op www.dinevanzyl.co.za - dis gratis.
My boeke is by boekwinkels, Leserskring, On the Dot en Kalahari beskikbaar. Ek is dankbaar dat dit steeds so gewild is, maar veral wanneer ʼn boek lank beskikbaar is, bestel boekwinkels dit slegs op aanvraag, omdat hulle nie met voorraad wil opgeskeep sit nie. Mens kan dit verstaan, maar hulle kan dit steeds bestel.
As jy getekende eksemplare van my boeke wil hê, bestel op www.dinevanzyl.co.za.
Kook boerekos
Hierdie naweek maak ons waterblompotjie met ʼn paar lekker skaapstertjies daarin. Maar nou moet ek eers gou gaan viskoekies bak. Wat eet jy vanaand?
"Ek kook – soms selfs in die kombuis.”
Dine van Zyl
Dit is my missie om die Afrikaanse taal, kultuur en kos te bevorder en mense trots te maak daarop.

Wednesday, 2 April 2014

Boerekos en Boeretroos

Soms slaan ʼn ding mens onverwags uit die verlede dat jy steier. As dit ʼn sleg-ding is, skud jy onwillekeurig jou kop en dink, gaan verby. Jy vryf oor jou oë en probeer vergeet.
As dit ʼn lekker-ding is, is dit ʼn goeie ding. So ʼn ding het my gister getref.
Hier is werkers by ons huis, besig om ʼn nuwe geut op te sit, dis nogal meer van ʼn affêre as wat jy sou verwag. Oor die middaguur skuif hulle ʼn paar sitgoed bymekaar en hulle het ʼn gereedskapkis as tafel tussen hulle. Dit gebeur alles hier langs my aan die anderkant van die skuifdeur, waar ek sit en skryf in my kantoor.
Die heeltyd gesels hulle in ‘n pragtige singerige klank, die Bolandse taal wat mense gepraat het voor Egoli. Hulle skink koffie uit die fles en maak hulle kospakkies oop.
Ek kyk ʼn oomblik op en Wendell doop sy brood in die koffie.
Net daar slaan die déjà vu my. Déjà vu is ‘n gevoelente dat jy al voorheen iets gesien of ervaar het. Vir my was dit Bolandse klanke. Brood in koffie doop. ʼn Herinnering van vroeërjare; ʼn lekker een.
Ek sit by die kombuistafel in my ma se huis. Pa het die tafel gemaak uit planke en die blad met grys melamien oorgetrek, ons was modern. Die riempiesbank druk patrone in my spykerboude.
Ek het ʼn beker met blou en wit strepe en ʼn toebroodjie van kaas en plaasbotter. Kitty Julies sit die vleis op, vanmiddag eet ons skaap, dit vat lank om sag te word.
“Daar is ʼn skilpad in die tuin”, vertel ek haar. “Die skilpad het die hele pad van die plaas af dorp toe gestap.”
“Nè?” Sy los alles net so, gooi die vatdoek oor haar skouer en leun teen die wasbak. “Vertel my daarvan, maar eet ietsie.”
Ek doop my brood in die koffie, swaai my bene en vertel ver draaistories. Die kaas word sag en die botter dryf groot geel kolle in die warm koffie. Julies vou haar arms oor haar maag vir lank luister.
Wanneer laas het ek brood in koffie gedoop? Nie Brasiliaanse koffie of Arabiese koffie of Keniaanse koffie nie, maar Koffiehuis moerkoffie.
Die Afrikaner het koffie gevat en dit syne gemaak. ʼn Mengsel van koffie en sigorei was wat mense gedrink het, tensy hulle self koffiepitte gebrand het soos die ou tante onder in die straat. Sy het met haar Voortrekkerkappie op gestaan en roer en roer in die platboompot onder die vyeboom, haar wange gloeiend van die hitte. Die hele omgewing het na koffie geruik.
Ons voorgeslagte het soms die witgatboom (Boscia albitrunca) se wortel as plaasvervanger vir koffie gebruik. Dit is net soos koffie gebrand en gemaal, maar toe koffie- en sigoreimengsels maklik beskikbaar geword het, het dit in onbruik geraak.
Die manne het graag koffie uit die piering gedrink. Die koffie was warm en hulle was haastig om hulle manne-ding te gaan doen, daarom het hulle die soet koffie uit die piering geslurp. Jy het nog nooit koffie gedrink voor jy nie dit gedoen het nie. Maar daarvoor het jy ʼn koppie en ʼn piering nodig en jy moet moerkoffie maak in ʼn enemmelkan met ʼn koffiesak.
Jy maak die koffiesak uit ʼn meelsak en werk dit aan ʼn draadraam vas wat mooi op die koffiekant pas. Voor jy die koffiesak kan gebruik, moet jy dit eers oornag in sterk koffie laat lê, anders smaak jou koffie na meelsak.
Toe ons van my ma se goedjies in die ouetehuis gaan haal, was daar soveel herinnerings. ʼn Foto van my pa as jongman. Naslaanboeke uit my kinderjare – en die enemmelkoffiekan, nog met die koffiesak daarin.
Hoekom het Ma die koffiekan gehou? Sy het nie ʼn stoof gehad daarvoor nie. Was dit die herinnering van my pa wat met sy lang vingers die draad draai om die raam vir die sak te maak?
Nou staan die koffiekan by my, maar dis nie sommer net vir staan nie. Ek gebruik dit elke dag om Koffiehuis moerkoffie te maak. Vir my en Graham is die koffie- en sigoreimengsel lekkerder as suiwer koffie, dit het meer smaak.
Vanoggend gaan sit ek met my beker koffie by my pa se tafel met die melamienblad op die stoep. Die botter smelt geel kolle toe ek my toebroodjie daarin doop en die kaas raak sag van die hitte. Ek vat ʼn hap van die brood en ʼn slukkie van die koffie en leun behaaglik terug. En toe weet ek déjà vu beteken eintlik iets anders. Dit beteken “boeretroos”.
Afsluiting
Dankie vir al julle lekker briewe. Dit gaan verskriklik rof hier met die drie boeke wat tans herdruk word. Dit is Die Groot Boerekosboek (die eerste een) in Afrikaans en Engels, en ook “Agter die lekker aan”, verskoon dus as ek nie altyd antwoord nie.
Ek het vanoggend ʼn oproep van iemand gehad wat nie “Die Groot Boerekosboek” kan opspoor nie. Dit is beskikbaar, sê vir die boekwinkel hulle moet dit bestel. Getekende eksemplare kan by my bestel word, kyk op www.dinevanzyl.co.za, waar mens ook op my gratis nuusbriewe kan inteken.
Dan groet ek maar en wens jou allerhande mooi dinge toe vir die naweek.
“Ek kook – soms selfs in die kombuis.”
Dine van Zyl